Secondary school History teachers assessing Outcomes-Based Education (OBE): a case study
Abstract
In 2008 was dit ‘n dekade gelede dat Kurrikulum 2005 met ‘n uitkomsgebaseerde benadering deur die ANC-regering geïmplementeer is om onder meer die ongelyke Suid-Afrikaanse onderwysstelsel van die apartheidsbewind te herstruktureer. Hierdie nuwe onderwysbenadering is deur sommige opvoedkundiges beskryf as ‘n “paradigma skuif” omdat dit op radikale wyse afgewyk het van die vorige kurrikulum in terme van teoretiese begronding, struktuur, organisasie, die onderrig- en leerprosesse en assessering. Uitkomsgebaseerde Onderwys (UGO) verteenwoordig ‘n gewysigde metodologie van ‘n suiwer inhoudgerigte transmissie-model onderwys (waar die onderwyser hoofsaaklik kennis aan passiewe leerders oordra) na ‘n interaktiewe en leerdergesentreerde benadering. Voorsiening moet vir elke leerder in die klas gemaak word om teen sy eie tempo en volgens sy eie doelwitte te kan vorder na die bereiking van die leeruitkomste. Van die onderwyser, as die fasiliteerder van leergebeure, word verwag om ‘n groter mate van individuele aandag aan elke leerder te skenk, addisionele leerbehoeftes te diagnoseer en om verrykende en alternatiewe remediërende leergeleenthede te ontwerp. Op sy beurt beteken dit dat addisionele assesseringsgeleenthede en -strategieë ook deurentyd geskep moet word. Al hierdie veranderinge het outomaties ook die Geskiedenisonderwyser beïnvloed. In hierdie artikel word gepoog om deur middel van ‘n gevalle-studie sekondêre Geskiedenisonderwysers (n=85) van voorheen bevoordeelde Model C-skole sowel as benadeelde skole se houding, ingesteldheid, oortuigings en ervarings te peil ten opsigte van hierdie onderwysmodel. Die vernaamste bevindings is dat meer as die helfte van die deelnemers ‘n positiewe ingesteldheid teenoor UGO gehad het en gemaklik daarmee was om dit in hulle onderrig- en leerpraktyke te inkorporeer. Ten spyte hiervan is ook probleme geïdentifiseer, waarvan die belangrikste was: ‘n toename in werkslas wat meegebring word deur groot klasse en administratiewe take wat met te veel assessering verband hou; die aard en omvang van indiensopleidingskursusse; die beskikbaarheid en toeganglikheid van onderrig-en leersteunmiddele en om die leeruitkomste en assesseringstandaarde te belyn.