Nicol Stassen, Afrikaners in Angola 1928–1975

Authors

  • Jacqueline A. Fourie

Abstract

Soos saamstaan en veg, is tweedrag, twis en trek welbekend in die geskiedenis van die Afrikaner. Minder as veertig jaar na die Groot Trek en skaars twintig jaar na die totstandkoming van die twee Boererepublieke, het drie groepe Afrikaners tussen 1875 en 1877 hulle waens gepak en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) verlaat om 'n nuwe heenkome iewers agter 'n vreemde horison te vind. Hierdie groep Afrikaners staan as die Dorslandtrekkers bekend omdat hulle deur die dorre Kalahariwoestyn getrek het, waar baie van hulle van dors en honger omgekom het. Hulle het enkele jare in die noorde van Suidwes-Afrika (Namibië) rondgetrek, waar koors en malaria 'n hoë tol onder hulle geëis het, voordat hulle in September 1880 die Angolese grens oorgesteek het, om hulle met die toestemming van die Portugese owerhede te Huila en Humpata in Suid-Angola te vestig. Minder as die helfte van die sowat 600 mense wat die ZAR verlaat het, het Angola bereik. Nagenoeg 'n kwart van die trekkers het langs die pad gesterf, terwyl 'n verdere kwart omgedraai het as gevolg van die ontberings waaraan hulle blootgestel is. Die Afrikaners het geleidelik verder noordwaarts en noordooswaarts na Bié, Mombolo, Que, Cubal, Caconda, Hanha, Sacanjimba en ander plekke in Sentraal-Angola versprei. Nuwe aankomelinge uit die Transvaal, hoofsaaklik in die tydperk tot 1907, het hulle getalle van 325 in 1883 tot tussen 1 550 en 2 050 teen 1926 laat styg. Die Angola-Boere het 'n lewe gemaak uit gemengde bestaansboerdery, saai- en beesboerdery, jag en transportry. Enkele Boere het hulle tot bos- en mynbou gewend en het betreklik welvarend geword. Die meeste het egter 'n sukkelbestaan gevoer en onder erge armoede gebuk gegaan. Daarom was dit vir hulle 'n groot uitkoms om as huursoldate van die Portugese owerheid aan pasifikasieoorloë teen die inheemse swart bevolking deel te neem.

Downloads

Published

2021-04-19

Issue

Section

Book Reviews