Die Dinamietontploffing te Braamfontein op 19 Februarie 1896
Keywords:
Braamfontein Dinamietontploffing, Braamfontein Dynamite explosion, 1896, Jaar van rampe, Jameson-inval, Boer-Uitlander vyandigheid, geskiedenis, history, South Africa, Zuid-Afrika, JohannesburgAbstract
In die geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek kan die jaar 1896 tereg as die jaar van rampe bestempel word. Te midde van groot politieke onrus het Nuwejaar in 1896 aangebreek. Na die Jameson-inval het drie rampe egter daartoe bygedra om die vyandigheid tussen Boer en Uitlander te temper, naamlik die Braamfonteinse dinamietontploffing op 19 Februarie 1896; die uitbreek van Runderpes wat die boerebevolking in armoede gedompel het; en die vergaan van die Drummond Castle in Junie 1896 tydens 'n vaart van Suid-Afrika na Engeland naby die Franse kus, toe 242 mense - onder wie baie Johannesburgers - verdrink het.
Van hierdie drie rampe was die dinamietontploffing te Braamfontein waarskynlik die een wat weens sy plotselinge verwoesting die langste onthou sal word, alhoewel dit nie Suid-Afrika se grootste dinamietontploffing was nie, want op 17 Julie 1932 het 'n hele trein met 'n groter hoeveelheid dinamiet te Leeuwdoornstad ontplof, terwyl in Januarie 1883 in Kimberley by die De Beersmyn 150 000 pd. dinamiet ontplof het. In albei laasgenoemde gevalle was die gevolge egter minder noodlottig.