Herinneringe aan Professor P.J. van der Merwe, 1912-1979
Abstract
Om 'n perspektief te gee op die komplekse lewe van 'n groot historikus soos professor Piet van der Merwe, is 'n enorme uitdaging, maar ook 'n voorreg. Hy was 'n hardwerkende, kritiese, regverdige, konsekwente en streng persoon, wat altyd reguit was. Hy sou nooit iemand agteraf beskuldig nie, maar sou sy mening openlik teenoor sowel kollegas as studente stel. Hy kon vurig raak as dinge nie na sy sin verloop het, of hanteer is nie. So het ek by geleentheid gehoor hoe hy letterlik gal gebraak het teenoor senior lektor Piet Calitz oor 'n saak wat hom nie aangestaan het nie. Studente het hom, soos ook sommige ander akademici van sy tyd, byvoorbeeld professor Willem Kempen van Afrikaans, met vrees en bewing genader as hulle werk onbevredigend of onvoltooid was. Miskien is dit die rede waarom Van der Merwe die onvleiende bynaam van "Piet Porcas" (ekwivalent "Piet Vark") by studente verwerf het. Dit moes hom diep seergemaak het, want onder sy bruuske uiterlike was daar tog ook 'n sagte kant. Mense wat nouer met hom saamgewerk het, het meer goedig na hom as "Oubaas Piet" verwys. Sy bonkige figuur (ses voet drie duim in die ou taal), welluidende stem, skerp ogies agter dik brilglase en bokbaardjie het 'n mens nogal aan afbeeldings van generaal Louis Botha herinner, maar hier eindig die ooreenkomste.